MEDIAVERKLARING

Ekonomiese druk, plaaslike besigheid en die pad vorentoe

Kommentaar namens die Velddrif Sakekamer

Die Velddrif Sakekamer neem met groot kommer kennis van die toenemende ekonomiese druk waaronder Velddrif, Laaiplek, Port Owen en die breër Weskus-gemeenskap tans verkeer. Die moontlike sluiting, afskaaling of onsekerheid rondom visfabrieke en die gepaardgaande risiko van werksverliese is nie net ’n nywerheidsaangeleentheid nie, maar ’n ernstige gemeenskaps- en ekonomiese uitdaging.

Die Sakekamer neem ook kennis dat die onlangse fabriekverwante aangeleentheid deur die betrokkenheid van verskeie rolspelers en partye positief aangespreek en opgelos is. Hierdie uitkoms is ’n belangrike bewys dat samewerking, oop gesprek en verantwoordelike betrokkenheid wel ’n praktiese verskil kan maak. Dit wys dat wanneer besigheid, gemeenskap, werknemers, groter rolspelers en relevante instansies saam om ’n tafel kom, oplossings moontlik is. Hierdie tipe samewerking is presies wat Velddrif nou nodig het om ekonomiese uitdagings beter te hanteer en ’n meer volhoubare pad vorentoe te bou.

Wanneer werk in die visbedryf verlore gaan, word die impak wyd gevoel. Dit raak nie net die werknemer nie, maar ook gesinne, plaaslike winkels, skole, diensverskaffers, restaurante, informele handelaars en klein ondernemings. Elke verlore salaris beteken minder koopkrag in die dorp en plaas verdere druk op ’n plaaslike ekonomie wat reeds onder druk is.

Vir ’n dorp soos Velddrif, waar die visbedryf histories ’n belangrike ekonomiese rol gespeel het, kan enige groot verandering in hierdie sektor nie ligtelik opgeneem word nie. Die impak of moontlike werksverliese strek verder as die fabrieksterrein. Dit raak die hele waardeketting van die dorp — van kleinhandelaars tot vervoer, van voedselverskaffers tot gesinne wat afhanklik is van ’n gereelde inkomste.

Ekonomiese insigte en kostedruk

Tydens die Velddrif Sakekamer se ledevergadering op 18 Junie, waar Nicky Weimar, Nedbank se Hoofekonoom, as gasspreker opgetree het, is waardevolle ekonomiese insigte met plaaslike besighede gedeel. Die gesprek het gehelp om die groter ekonomiese prentjie beter te verstaan, maar ook om te besef dat plaaslike ondernemings nie net kan wag vir oplossings van buite af nie.

Een van die belangrike temas uit die ekonomiese gesprek was dat Suid-Afrika se sake-omgewing tans onder groot kostedruk funksioneer. Besighede en huishoudings word geraak deur stygende insetkostes, administratiewe laste, hoë diensfooie en ’n verbruiker wat al hoe versigtiger bestee. Dit is daarom belangrik dat alle vlakke van regering, staatsinstellings en diensverskaffers deurlopend kyk na maniere om kostedruk te verlig, prosesse te vereenvoudig en ekonomiese groei meer prakties te ondersteun.

Daar moet ook eerlik gekyk word na prysverhogings, tariewe en heffings wat ondernemings en huishoudings onder verdere druk plaas. Waar kostes vooruit verhoog is om voorsiening te maak vir moontlike ekonomiese druk wat nie noodwendig in dieselfde mate gerealiseer het nie, behoort daar ’n verantwoordelike gesprek te bevind oor waar verligting moontlik is. Die doel moet nie wees om blaam te plaas nie, maar om volhoubaarheid te bevorder en die plaaslike ekonomie asemruimte te gee.

Die Sakekamer glo nie dat hierdie uitdagings deur een rolspeler alleen opgelos kan word nie. Regering het ’n verantwoordelikheid om ’n meer groei-vriendelike omgewing te skep, maar plaaslike besighede het ook ’n verantwoordelikheid om meer georganiseerd, meer strategies en meer ondersteunend teenoor mekaar op te tree.

’n Baie duike boodskap uit die vergadering was dat ons as besigheidseienaars mekaar beter moet begin ondersteun. Velddrif se ekonomie kan nie net deur een sektor, een organisasie of een groep besighede gedra word nie. Ons moet as dorp saamstaan en ’n praktiese plan ontwikkel waar alle besighede, nie net Sakekamer-lede nie, deel word van die oplossing.

Bekendstelling van die WesKus Passpoort

Die Sakekamer het reeds die eerste gesprekke hieroor begin, en verdere gesprekke word binnekort beplan. Die doel is om besighede regoor Velddrif, Laaiplek en Port Owen bymekaar te bring om kleiner, meer gefokusde en meer effektiewe bemarkingsinisiatiewe vir die dorp te ontwikkel, waarvan die WesKus Passpoort is een van die eerste praktiese projekte is. Ons moet ophou om elkeen net in sy eie hoek te probeer oorleef. Ons moet begin dink soos ’n bestemming, nie net soos individuele ondernemings nie.

As deel van hierdie praktiese benadering het die Velddrif Sakekamer ook ’n nuwe ontwikkelings- en bemarkingsprojek geloods, geborg deur 3DOM Digital Agency, genaamd die WesKus Passpoort. Die doel van hierdie platform is om alle plaaslike besighede — groot en klein, lede en nie-lede — die geleentheid te gee om hul besigheid, produkte, dienste en ervarings op een sentrale platform te lys.

Die WesKus Passpoort is daarop gemik om besoekers aan te moedig om meer plekke in Velddrif, Laaiplek, Port Owen en die breër Weskus te besoek, langer in die omgewing te bly en hul besteding oor meer plaaslike ondernemings te versprei. Deur ’n belonings- en deelname-benadering, soortgelyk aan ’n spelgebaseerde belonings-stelsel, kan besoekers aangemoedig en beloon word vir deelname, besoeke, aankope of interaksie met plaaslike besighede.

Hierdie projek is ’n praktiese voorbeeld van die tipe samewerking wat nou nodig is. Dit gaan nie net oor bemarking nie, maar oor ekonomiese aktivering — om besighede meer sigbaarheid te gee, besoekers beter te lei, plaaslike besteding te stimuleer en die dorp as ’n gesamentlike bestemming sterker te posisioneer.

Wanneer ’n besoeker of toeris in Velddrif aankom en vra waar hulle kan eet, koffie drink, inkopies doen of iets beleef, moet hulle die indruk kry van ’n lewende, gesonde en proaktiewe dorp. Ons moet nie net een of twee bekende plekke aanbeveel nie. Ons moet vir mense wys dat daar verskeie opsies is: koffiewinkels, ontbytplekke, middagete-opsies, gesinsrestaurante, kuierplekke, plaaslike winkels, kuns, geskenke, wyn, gin, bier, rivier-ervarings en egte Weskus-gasvryheid.

Die doel moet wees dat ’n besoeker weggaan met die gevoel dat daar baie meer in Velddrif is as wat hulle verwag het — en dat hulle weer moet terugkom. Hoe langer ons besoekers in die dorp hou, hoe meer versprei besteding deur die hele plaaslike ekonomie. Dit help nie net een besigheid nie; dit help restaurante, winkels, akkommodasie, toerisme-aanbieders, diensverskaffers en uiteindelik ook werksgeleenthede.

‘n Beroep op plaaslike samewerking

Velddrif wankel tans onder ekonomiese druk. Die winterseisoen is stadiger vir baie ondernemings, verbruikers se besteebare inkomste is onder druk, en onsekerheid in die visbedryf verhoog die risiko vir verdere ekonomiese skade. Tog glo die Sakekamer dat Velddrif steeds enorme potensiaal het as ’n Weskus-sentrum vir toerisme, gasvryheid, vissery, kleinsake, mariene ekonomie, eiendomsontwikkeling en leefstylbelegging.

Wat nou nodig is, is ’n praktiese plaaslike herstelbenadering. Ons moet bestaande werksgeleenthede waar moontlik beskerm, maar ook realisties wees dat werk nie altyd beskerm kan word as ondernemings self onder druk is nie. Daarom moet ons terselfdertyd nuwe geleenthede skep deur toerisme sterker te ontwikkel, kleinsake beter te ondersteun, plaaslike vaardigheidsontwikkeling te bevorder en jongmense meer toegang tot opleiding, entrepreneurskap en werkserwaring te gee.

Die Sakekamer doen ook ’n beroep op groot rolspelers in die visbedryf om die sosio-ekonomiese impak van enige sluitings, konsolidasies of afleggings ernstig op te neem. Waar gemeenskappe vir dekades help bou het aan ’n bedryf, behoort daardie gemeenskappe nie bloot agtergelaat te word wanneer ekonomiese besluite geneem word nie.

Daar is egter ook ’n dieper vraag wat ons as plaaslike gemeenskap en as besigheidseienaars eerlik vir onsself moet vra: is ons werklik gefokus daarop om die gemeenskap te help, of probeer elkeen net oorleef binne sy eie klein kring?

In moeilike ekonomiese tye is dit maklik om net na buite te kyk vir oplossings — na regering, groot maatskappye, munisipale strukture of ander rolspelers. Hierdie rolspelers het beslis verantwoordelikhede, maar ons kan ook nie ons eie verantwoordelikheid as plaaslike besigheid en gemeenskap ignoreer nie.

As ons sê ons wil werksgeleenthede beskerm, moet ons ook vra of ons besluite, ons bemarking, ons verwysings en ons samewerking werklik daartoe bydra. Help ons mekaar om sterker te word, of kompeteer ons op ’n manier wat die dorp as geheel swakker maak? Praat ons Velddrif op wanneer besoekers hier aankom, of gee ons vir mense die indruk dat daar min is om te doen en min is om te ondersteun?

Die Sakekamer glo dat gemeenskapsbou nie net ’n slagspreuk kan wees nie. Dit moet prakties sigbaar een wees in hoe ons besighede mekaar verwys, hoe ons plaaslike produkte ondersteun, hoe ons toeriste verwelkom, hoe ons jongmense geleenthede gee, en hoe ons saam ’n positiewe beeld van Velddrif bou.

Ons moet eerlik wees: indien ons wil hê mense moet in Velddrif belê, hier kuier, hier koop en hier werk skep, moet ons self ook die eerste mense wees wat in Velddrif glo. Dit beteken ons moet mekaar sterker ondersteun, beter saam beplan en die dorp as een gesamentlike bestemming bemark.

Ons verantwoordelikheid as besigheidseienaars is dus nie net om ons eie deure oop te hou nie, maar ook om te help bou aan die beeld, energie en lewenskrag van ons dorp. Velddrif moet na buite toe lyk en voel soos ’n dorp wat saamstaan, wat planne maak en wat besoekers welkom laat voel. ’n Gesonde dorp se besighede praat mekaar op, verwys mekaar, ondersteun mekaar en bemark die dorp as geheel.

Die enigste manier waarop ons deur hierdie moeilike ekonomiese tyd gaan kom, is deur meer besoekers na ons dorp te lok, hulle langer hier te hou en hulle te wys dat Velddrif baie meer bied as wat hulle dalk verwag het. En die enigste manier om dit reg te kry, is as alle besighede saamwerk.

Ons boodskap is eenvoudig: beskerm werk waar moontlik, verlig onnodige kostedruk waar haalbaar, maak dit makliker vir besighede om te groei, en bou saam aan ’n meer volhoubare Velddrif-ekonomie.

Velddrif het nie net simpatie nodig nie. Velddrif het planne, belegging, samewerking en uitvoering nodig.

Amptelike aanhalings vir publikasie

“Velddrif wankel tans onder ekonomiese druk, maar ons glo steeds die dorp het enorme potensiaal. Regering en diensverskaffers moet waar moontlik help om kostedruk te verlig en groei makliker te maak, maar plaaslike besighede het ook ’n verantwoordelikheid om sterker saam te werk. Ons moet ophou dink as losstaande ondernemings en begin optree soos ’n bestemming. Hoe beter ons mekaar bemark en ondersteun, hoe langer bly besoekers in Velddrif en hoe meer versprei besteding deur die hele dorp.”

“Die onlangse fabriekverwante aangeleentheid wat deur die betrokkenheid van verskeie partye aangespreek en opgelos is, wys vir ons dat samewerking werk. Dit is presies die tipe praktiese betrokkenheid wat Velddrif nou nodig het — nie net praat nie, maar rolspelers wat saamstaan, verantwoordelik optree en oplossings help bou.”

“Die WesKus Passpoort is een van die praktiese projekte waarmee ons plaaslike besighede meer sigbaarheid wil gee en besoekers wil aanmoedig om meer van Velddrif en die Weskus te ontdek. Ons moet die dorp as een bestemming bemark, nie as losstaande besighede wat apart probeer oorleef nie.”

“Ons moet eerlik vir onsself vra of ons werklik gefokus is daarop om die gemeenskap te help. In moeilike tye kan ons nie net wag vir oplossings van buite af nie. Ons moet self Velddrif opbou deur mekaar te ondersteun, besoekers beter te verwelkom, plaaslike besighede aktief te verwys en die dorp as een gesamentlike bestemming te bemark.”

Uitgereik deur: Johnny Da Silva
Voorsitter: Velddrif Sakekamer

The Velddrif Chamber of Commerce is dedicated to fostering local business growth through community connection and visibility. Join us in building a stronger, more connected town.

Become a Member

Join our thriving business community today.

© 2026 Velddrif Chamber of Commerce. All Rights Reserved.