Cape Salt / Unisalt Omgewingsaansoek: Velddrif Sakekamer se Konteks en Standpunt

Velddrif Sakekamer • Kommunikasie aan Lede en Gemeenskap

Geagte Lede en Breër Gemeenskap,

Daar was onlangs heelwat gesprek, kommentaar en reaksie rondom ’n omgewingsaansoek wat verband hou met die soutmynbedrywighede van Unisalt / Cape Salt Company (Pty) Ltd in Velddrif.

Die Sakekamer erken en respekteer ten volle dat inwoners, besighede en ander belanghebbendes geregtig is om vrae te vra, bekommernisse te opper en kommentaar te lewer wanneer ’n omgewings- of ontwikkelingsaansoek ter tafel is. Dit is trouens juis waarvoor ’n behoorlike openbare deelnameproses bestaan.

Terselfdertyd het dit uit van die gesprekke wat gevolg het duidelik geword dat daar ook sekere aannames en stellings gemaak word wat nie noodwendig op die volledige feite rondom die aansoek gebaseer is nie. As Sakekamer glo ons dat goeie gesprekke met goeie inligting begin.

Waarom hierdie navraag gedoen is

Omdat Cape Salt deel vorm van ons plaaslike sakegemeenskap, het ons die onderneming genader en gevra om in eenvoudige, verstaanbare taal te verduidelik:

  • Wat presies aangevra word;
  • Waarom die verandering aangevra word;
  • Hoe groot die betrokke area is;
  • Waarvoor die grond gebruik sal word;
  • Watter omgewings- en regulatoriese prosesse gevolg word; en
  • Hoe die onderneming sy verantwoordelikheid teenoor die Bergrivier, omliggende natuur en Velddrif benader.

Formele omgewings- en regulatoriese dokumente is dikwels tegnies en omvangryk. Wanneer gedeeltes daarvan in isolasie bespreek word, kan die werklike omvang of bedoeling van ’n aansoek maklik verlore raak. Ons deel daarom hieronder die verduideliking wat ons vanaf mnr. Willie Botha, Besturende Direkteur, ontvang het.

Agtergrond soos deur Cape Salt / Unisalt verduidelik

Unisalt is die wettige mynreghouer van die soutmyn in Velddrif en Cape Salt Company (Pty) Ltd is die bedryfsmaatskappy. Die mynreg en bedrywighede is rondom 2020 vanaf Cerebos oorgeneem. Volgens die onderneming was daar op daardie stadium slegs drie werknemers, aangesien die myn hoofsaaklik op ’n “care and maintenance”-basis bedryf is.

Sedertdien is ongeveer 90 addisionele werknemers in Velddrif aangestel, wat volgens die onderneming 90 direkte plaaslike werksgeleenthede verteenwoordig.

Die Voorgestelde Aansoek

Die huidige aansoek aan die DMRE behels ’n aanpassing van die bestaande mynreggebied. Die voorgestelde verandering behels:

  • Die verwydering van ongeveer 4,5 hektaar waar geen mynbedrywighede plaasvind nie; en
  • Die toevoeging van ongeveer 4,7 hektaar tot die bestaande myngebied.

Volgens Cape Salt is die bedoeling om die 4,7 ha as ’n bykomende kristalliseerdergebied te ontwikkel. Die gebied sal voorberei en met water bedek word as deel van die soutproduksieproses. Die betrokke grond is aan die verste kant van die huidige soutmyn en die Bergrivier geleë, en is tans vir landbougebruik gesoneer.

Cape Salt bevestig verder dat onafhanklike konsultante aangestel is om die nodige omgewingsimpak- en spesialisstudies as deel van die aansoekproses te doen. Hoewel 4,7 ha relatief klein is, beskryf die onderneming dit as moontlik die laaste beskikbare bruikbare grond vir uitbreiding van sy soutproduksie in hierdie gebied.

Omgewingsbestuur en Bewaring

Cape Salt het verduidelik dat mynreghouers aan deurlopende regulatoriese en omgewingsvereistes onderhewig is, insluitende eksterne omgewingsoudits, DMRE-inspeksies, mynwerkprogramme en omgewingsbestuursprogramme.

Beskerming van die Bergrivier: Van besondere belang is die instandhouding en beskerming van die walle rondom die soutpanne met hoë soutkonsentrasies om te verseker dat gekonsentreerde soutwater nie in die Bergrivier beland nie. Die myngebied is ook deur ’n landmeter afgebaken.

Voëllewe en Natuur: Verskeie voëlspesies, waaronder skaars spesies, kom binne hierdie habitat voor. Bewaring en die beskerming van die natuurlike omgewing vorm ’n belangrike deel van hul benadering.

Onlangse Vloedskade: Buitengewoon groot volumes water in die Bergrivier het die aanleg op plekke binnegedring en skade veroorsaak. Voorkomende werk het egter verhoed dat soutpanwalle gebreek het en soutwater in die rivier beland het.

Die Sakekamer se Standpunt

Die doel van hierdie kommunikasie is nie om namens die formele omgewingsproses ’n bevinding te maak of om ’n aansoek goed of af te keur nie, en ook nie om enige persoon se reg om kommentaar te lewer te beperk nie.

Ons moedig inwoners en belanghebbendes aan om die beskikbare dokumentasie te bestudeer, vrae te vra en kommentaar deur toepaslike formele openbare deelnamekanale te rig. Ons vra dat daar onderskei word tussen bevestigde feite, geldige bekommernisse en aannames.

Cape Salt het aangedui dat hulle bereid is om terugvoer oor die voorkoms en toestand van hul terrein te ontvang. Ons glo dat deursigtigheid, verantwoordelike ontwikkeling, omgewingsbewaring en ekonomiese groei hand aan hand kan gaan.

Vriendelike groete,

Johnny Da Silva
Voorsitter, Velddrif Sakekamer

The Velddrif Chamber of Commerce is dedicated to fostering local business growth through community connection and visibility. Join us in building a stronger, more connected town.

Become a Member

Join our thriving business community today.

© 2026 Velddrif Chamber of Commerce. All Rights Reserved.